AFRIKAANS BIOGRAAF

Chris Chameleon Biograaf


 
Chris Chameleon - vernuwend, prolifiek en eindeloos kreatief, het bekend geraak in Suid-Afrika, asook oorsee, as ‘n musikale fenomeen. Met ‘n eiesoortige styl, bekoorlike verhoogpersoonlikheid en ‘n reputasie om gehore met sy vier-oktaafstem en stemtoertjies te betower, het sy uitsonderlike talent hom uitstekende resensies en vele toekennings besorg oor die afgelope 27 jaar. Toekennings sluit drie Suid-Afrikaanse Musiektoekennings (SAMAs) en ‘n Erepenning van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns in.
 
Agtergrond
 
Na sy suksesse tussen 1990 en 1995 met sy eerste orkes, die eklektiese Blue Chameleon, het Chris Chameleon in 1997 die orkes Boo! gestig, ‘n musikale drietal wat in die tussentyd ‘n wêreldwye kultusaanhang verwerf het. In die eerste 7 jaar van hulle bestaan het Boo! meer as 800 vertonings in 17 lande uitgevoer, insluitende Hongarye, Kroasïe en 14 van die Verenigde State van Amerika. Boo! het by vele Europese en Amerikaanse musiekfeeste opgetree met, onder andere, die White Stripes, Limp Bizkit, Slipknot, Franz Ferdinand, Cypress Hill en Coldplay.  Die groep het ook ‘n Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) vir Beste Popalbum in 2002 ontvang.
 
Eerste solo album 2005
 
Toe Boo! se medegroeplede, Ampie Omo en Leon Retief, besluit het om ander heenkome te soek in 2004, het Chris Chameleon sy vlerke gesprei deur sy Afrikaanse en Suid-Afrikaanse herkoms te ondersoek. Hy het die hoog-aangeskrewe album ‘Ek Herhaal Jou’ uitgereik – verwerkings van die poësie van die ikoniese digter uit die Sestigerjare, Ingrid Jonker.  Resensente was mal oor ‘Ek Herhaal Jou’ en het die album geloof vir die toeganklikmaking van Jonker se werk vir ‘n nuwe en wye gehoor van luisteraars. ‘Ek Herhaal  Jou is genomineer vir ‘n 2006 Suid-Afrikaanse Musiektoekenning (SAMA) vir Beste Volwasse-kontemporêre Afrikaanse Album. Die album het goue status bereik in Suid-Afrika in Julie 2006 en platinum status in Desember 2007.
 

2017

Chris Chameleon het in Februarie en Maart ‘n uitgebreide teatertoer na Nederland onderneem. Saam met die bekende Nederlandse sangeres en aanbiedster, Leoni Jansen, het hulle hul produksie 'Ja Gesê' in 28 teaters in Nederland uitgevoer. Ondertussen het Chris die finale meng en bemeestering van sy volgende Afrikaanse album 'Jy en Ek en Ek en Jy' afgerond. Die album is in April 2017 vrygestel.


2016
 
Chris se jaar het weer afgeskop met ‘n suksesvolle Europese toer in die Nederland.
Teen die einde van 2015 het Chris sy nuwe Engelse album opgeneem wat deur Theo Crous vervaardig is. Dit is Chris se eerste Engelse album na die laaste Englse album ‘Made Available’ wat in 2008 vrygestel is. Die naam van die nuwe Engelse album, wat in Augustust vrygestel is, is ‘Firmament’ en Chris toer op die oomblik rond met ‘n produksie met die selfde naam as die album om die album se musiek bekend te stel.
Chris het ook sy verskyning in die SABC 3 televisiereeks ‘Sober Companion’ gemaak as die tragiese, dwelmverslaafde popheld Rory Kruger.
 
2015
 
Chris se jaarlikse teatertoer na Nederland was die produksie van sy nuutste album, 'Posduif', saam met die digter Daniella Deysel. 'Posduif' is ook genomineer vir ‘n 2015 SAMA toekenning in die kategorie 'Beste Afrikaanse Kontemporêre Album'.
 
In Maart het Chris ook deur Namibië gereis vir die vervaardiging van ‘n dokumentêr oor Afrikaans in Namibie wat geskeduleer in Augustus 2015 op KYKnet vertoon het.
 
In April het Chris gereis na Qatar, Dubai en Londen vir optredes.
 
2014
 
Chris het 2014 afgeskop met nog ‘n suksesvolle toer van 'Klank van Jou Oë' in Nederland en Belgie in Februarie.
 
Met sy terugkoms in Suid-Afrika het hy dadelik aan die werk gespring met die verfilming van die rolprent 'Suurlemoen', waarin hy die karakter vertolk van Mnr Marx, ‘n skoolonderwyser. Die film was in September vrygestel.
 
In Junie het Chris 'Posduif', sy eerste duet album in samewerking met die opwindende jong digter Daniella Deysel, vrygestel. Chris was sodanig in vervoering deur Deysel se gedigte dat hy besluit het om haar digkuns te toonset. Hy het haar ook oortuig om saam met hom op die album te sing – ‘n eerste vir beide Chris en Daniella.
 
2013
 
Chris se Europese Teater Toer in Februarie 2013 was ‘n solo-toer met die produksie “Klank van Jou ” wat bestaan het uit liedjies vanaf beide Chris se Ingrid Jonker albums.
 
Verdere oorsese optredes in 2013 het ‘n toer na Australië in Mei en ‘n tweede Europese toer in Junie ingesluit.
 
Chris het die die rol van ‘n popster genaamd Sarel Fourie in die fliek “Fanie Fourie’s Lobola” wat in Maart 2013 landwyd in fliekteaters uitgereik is gespeël. Chris, Hunter Kennedy en Fred den Hartog (van die ‘Heuwels Fantasties’) het die lierieke en musiek geskryf vir Sarel Fourie se popliedjies in die fliek. Dit was so gewild dat Sarel Fourie in Maart 2013 sy eie album “Dinky” uitgereik het. Chris was genomineer vir ‘n Tempo Toekenning vir sy rol as Sarel Fourie.
Chris se produksie “Droomland” (sien ook 2012) saam met die Suid Kaapse Kinderkoor, het in April 2013 ‘n KANNA Toekenning by KKNK losgeslaan vir Beste Musiek Produksie.
In 2013 het Chris homself vir die eerste keer in 24 jaar weer in ‘n eenmantoneelstuk vir die verhoog op Innibos Kunstefees met sy produksie: “Man” gevind.  In 1989 het Chris sy toetrede tot die vermaaklikheidswese met sy selfgeskrewe eenman toneelstuk "Boy" ingelei. Die toneelstuk is by elkeen van die vele kompetisies waarvoor Chris in 1989 ingeskryf het met pryse bekroon en hy het uiteindelik weggestap met die louere by die eerste Dalro Nasionale Toneelkompetisie.  'Man' voer die verhaal van 'Boy' verder. Ons sien wat van sy drome geword het, sy verwagtinge, sy gevoelens en hoe hy homself nou in die werklikheid van n veranderde wêreld bevind. Met Chameleon se gebruiklike wisseling tussen skreeusnaakse humor en hartroerende gevoel ontknoop 'Man' in 'n verrassende epiloog wat gehore lank bybly.
 
Chris se Afrikaanse album “Herleef – Psalms en Gesange” was in Oktober 2013 uitgereik.  Chris sê: “Dit is die album met die meeste skop wat ek nog in Afrikaans opgeneem het. Ek hoop dit herinner mense hoe groot God is. Ek hoop die saambindende krag van musiek laat ons verby ons verskille kyk en eerder na mekaar se harte.”
Oor die keuse van liedere vir opname sê Chris: “Ek het besluit om ’n paar van my gunsteling psalms en gesange op te neem. Nie net omdat hulle langsamerhand verdwyn uit ons algemene lofprysinge nie, nie net omdat ek nog altyd wou gehoor het hoe hulle sal klink as ek hulle opnuut toonset nie, nie net omdat hulle my gedagtes terugvoer na die dae van suiwer geloof sonder die vrae van my volwasse verstand nie, maar omdat hulle van toe tot nou my siel roer en my in ’n intieme gesprek bring met my Skepper.”
 
2012
 
Chris het 2012 afgeskop met n suksesvolle toer na Nederland en België.
As Jy Weer Skryf’ is benoem vir ‘n  SAMA Toekenning 2012 vir Beste Manlike Kontemporêre Album.
In Junie 2012 het Chris ‘n Innibos Feesproduksie saam met die Drakensberg Seunskoor, 'Droomland’' in die Sudwala Grotte aangebied waarin hy onder andere Ramirez se ‘Missa Criolla’ uitgevoer het. Die produksie was weke voor die fees reeds uitverkoop. Die produksie het die toekenning vir Grootste Kunsbydrae tot die fees ontvang. Dit is lewendig op CD en DVD opgeneem en is in Desember 2012 onder die titel “Droomland” uitgereik.
 
In Augustus 2011 is Chris aangewys as ‘n LCA (Leierskap vir Bewaring in Afrika) glanspersoonlikheids-ambassadeur, 'n hoedanigheid wat hy ook kan benut om sy passie vir bewaring verder te voer.  Chris het in Junie 2012 na Ghana  gereis in sy hoedanigheid as ambassadeur om saam met Samini, een van Ghana se grootste sterre, ‘n video op te neem van die lied 'My World', wat hulle saam geskryf het om die boodskap van bewaring verder uit te dra.
Chris se opsigtelike toewyding tot bewaring is in Junie 2012 erken met die toekenning van die ‘Green Heart Award.’
 
Chris is ‘n aanbieder in die nuwe 'De Kat' televisiereeks op Kyknet en het ook in die nuwe reeks 'Rugby Motors' (geskryf deur Louw Venter) in November 2012 verskyn.
 
2011
 
In Junie, 2011, ses jaar na die verskyning van Ek Herhaal Jou’, het Chris weer ‘n versameling Ingrid Jonker gedigte getoonset wat met gemak voortbou op die kreatiewe energie wat Ingrid Jonker se tekste in hom geïnspireer het. Die album ‘As Jy Weer Skryf’ is ‘n eklektiese musikale meesterstuk. Die toonsettings is vrolik, gevoelig, maar skroom nie om soms die donker kant van haar werk ten volle te besoek nie. ‘n Rock en- kinderlied dra verder by tot die verskeidenheid op die album. As Jy Weer Skryf’ is ‘n deurgrondelike voorbeeld van Chris se ontwikkeling as kunstenaar gedurende die afgelope 6 jaar. Die kombinasie van Chris se unike stemvermoëns en komplekse instrumentasie baan die weg vir ‘n veel ryker klank. ‘As Jy Weer Skryf’ is in Maart 2011 te Belville Studios onder leiding van die bekroonde vervaardiger Theo Crous opgeneem.
 
Boo! se nuwe album, ’The Three of Us’, is benoem vir ‘n 2011 SAMA toekenning vir Beste Alternatiewe Musiekalbum in Engels
 
In Junie, 2011, het Chris ‘n suksesvolle toer na Australië onderneem.
 
Chris het in Oktober 2011 Congo toe gereis saam met die LCA om werk te maak van hul 20/20 vision. Hy het ook die lied 'Minutes to Midnight' opgeneem en ‘n video daarvan verfilm om die aandag te vestig op die LCA se werk.
 
Chris se produksie Klank van jou Oë’ het gedebuteer by Cultivaria en Aardklop in Oktober 2011. Weereens ‘n wegholsukses op kunstefeeste, het hierdie produksie, in samewerking met Adriaan Brand (Springbok Nude Girls) en Riaan van Rensburg en geskoei op die werk van Ingrid Jonker vir vol sale by meeste van die kunstefeeste gesorg. 
 
2005 – 2010
 
Chris het sy eerste DVD “Volkleur” vrygestel in 2005, ‘n paar maande na die vrystelling van “Ek Herhaal Jou”. Die DVD  - ‘n perfekte vertoonkas vir sy kragtige eenmanvertonings, het gouestatus bereik in 2006.
 
In 2006 het Chris gelyktydig sy eerste Engelse solo rockalbum, Shine en ‘n tweede Afrikaanse album, ‘7de Hemel’ uitgereik.  ‘7de Hemel’ is ‘n versameling van die liedjies uitgevoer deur die veelsydige Chameleon as die gewilde karakter Liam in Suid-Afrika se gunstelingsepie, ‘7de Laan’‘7de Hemel’ het platinumstatus bereik in die eerste twee maande na uitreiking, en het dubbel platinumstatus bereik in 2009. ‘Shine’, ‘n meesterlik-vervaardigde, melodiese pop-rock album het vele trefferlys-enkelspelers opgelewer op nasionale kommersiële radiostasies en is genomineer vir ‘n 2007 SAMA-toekenning vir Beste Alternatiewe Album. Die kortspeler “Anywhere” van die album ‘Shine’ is ingeskryf vir die International Songwriting Competition (ISC) en het die semi-finale bereik in Februarie 2007.
 
In Julie 2007 het Chris Chameleon sy derde Afrikaanse album ‘Ek Vir Jou’ vrygestel. Ek Vir Jou’ het gouestatus bereik in minder as twee maande na die vrystelling. “Ek Vir Jou” volg die ontwikkeling van ‘n romantiese verhouding, van liefde met die eerste oogopslag tot die uiteindelike ontrafeling.
 
In Augustus 2007 het Chris Chameleon ‘n platekontrak aangegaan met die vooraanstaande onafhanklike Hollandse platemaatskappy Excelsior Recordings, wie die album ‘Ek Vir Jou’ versprei in die Benelux lande (België, Nederland en Luxemburg).
In Oktober 2007 is Chris genooi om “Spinvis” – een van die Benelux se mees gewilde groepe – te ondersteun op toer. Die twee maande-lange toer was ‘n reusesukses, met uitstekende resensies in verskeie Hollandse publikasies. Hierdie toer was die platform vir suksesvolle Benelux toere as ‘n solokunstenaar wat sou volg in 2008 en 2009.
 
In Oktober 2007 het Chris “Flight of an Extraordinary Alien”, vrygestel, ‘n lewendige rock-DVD wat die energie van sy opwindende verhoogoptredes uitstekend vasvang. “Flight of an Extraordinary Alienwas opgeneem voor ‘n gehoor in die Stellenbosch Stadsaal in Maart 2007.
 
In 2008 het Chris beide Suid-Afrikaanse resensente en bewonderaars beïndruk met sy verhoogproduksie, “Klassieke Chameleon”. Die produksie, wat staande ovasies ontvang het by die Volksbladfees, Kultivariafees, Aardklopfees 2007 en KKNK 2008, is opgeneem voor ‘n lewendige gehoor in die Aula Teater in Pretoria en is beskikbaar op DVD en CD.
 
Chris  het “Klassieke Chameleon” opgevolg met nog ‘n unieke produksie, “Driekuns”, by die Volksbladfees in Bloemfontein in Julie 2008. Vir die eerste keer sedert sy Boo!-dae was Chris terug op die baskitaar, vergesel deur Jonathan Crossley op kitaar, Riaan van Rensburg op perkussie en voormalige Boo!-orkeslid Ampie Omo op klawerbord, trompet, tromboon en perkussie. Met “Driekuns het Chris en Ampie Omo vir die eerste keer sedert 2004 weer ‘n verhoog gedeel
 
In Oktober tot November 2008 het Chris in 15 van Holland se mees luisterryke teaters opgetree. Die Teater Toer is georganiseer deur die vername Kik Productions (http://www.kikproductions.nl/) wat gebaseer is in Utrecht.  Chris het opgetree in uitverkoopte sale, met positiewe mediadekking deurgaans. Die toer het op ‘n
In Oktober 2008 het Chris ook  die album “Made Available” vrygestel. “Made Available” is bewys van Chris  se 17-jaar-lange passie vir musiekmaak. Die album se aanvanklike doel was om nuwe musikale benaderings te ondersoek vir  Chris se volgende studioprojek, maar, met die finale produk so sag op Chameleon se oor, het hy besluit om hierdie voor-vervaardigingsalbum aanlyn en by optredes beskikbaar te stel  – met groot sukses.
 
Chris se Afrikaanse solo album, “Kyk Hoe Lyk Ons Nou,” is vrygestel in Maart 2009. Chris het weereens saamgewerk met vervaardiger Theo Crous, en ‘n klank geskep wat ‘n progressie is van die styl wat sy eerste drie Afrikaanse albums gekenmerk het. Die musiek is gebruik in die kykNET dokumentêr “Kyk Hoe Lyk Ons Nou” wat ‘n nader kykie gebied het aan die breë Afrikaanse gemeenskap in Suid-Afrika. Chameleon was ook ‘n spesiale aanbieder van die genoemde kykNET dokumentêr wat uitgesaai is op kykNET in November 2009.
 
In April 2009 het Chris die gesogte KANNA-toekenning vir Beste Manlike Kunstenaar ontvang aan die einde van die drie weke-lange Klein Karoo Nasionale Kunstefees, vir sy vertoning in Driekuns.”
 
Op 18 Julie 2009 het Chris opgetree saam met onder andere Dave Stewart, Aretha Franklin, Josh Groban, Cyndi Lauper, The Soweto Gospel Choir en Yvonne Chaka Chaka by die prestigeryke Mandela (46664) Konsert in New York. 
 
In Mei 2009 het Chris met ‘n rockgroep in Holland getoer vir die eerste keer sedert  Boo! laas daar opgetree het in 2004.
In Oktober/November 2009 het Chris op nog ‘n opwindende teatertoer van België en Nederland gegaan, in ‘n poging om aan die vereistes van sy immer-groeiende Benelux bewonderaarsbasis te voldoen.
 
In Augustus 2009 het Chris nog ‘n toekenning gewen vir Driekuns”, hierdie keer vir Mees Gewilde Produksie by die Innibos Kunstefees.
 
By die 2009 Cultivariafees het Chameleon sy nuwe feesproduksie, “Voila” gepremier.  “Voila” bestaan uit Chameleon se musiek, meesterlik getoonset deur Jonathan Crossley. In “Voila” deel Chris die verhoog met die wêreldbekende klassieke kitaarspelers James Grace en Jonathan Crossley.
 
In Februarie 2010 het Chris ‘n nuwe Boo! album in Amsterdam opgeneem, die eerste sedert 2003.  Die album getiteld “The Three of Us” is in Oktober 2010 uitgereik.  Die nuwe album het hom en vorige Boo! orkesmaat Ampie Omo weer kreatiewe kragte sien saamspan, en Chameleon, Omo en Riaan van Rensburg (op tromme) het feesgangers landwyd weggeblaas met hulle optredes by oa Ramfest en Rocking the Daisies.
 
Boo! het ook in Aug/Sept in Nederland, België en Londen getoer.
 
Die kortspeler “The Lonely Hearts Club” is ingeskryf vir die International Songwriting Competition (ISC) en het die semi-finale bereik in Februarie 2011.
 
 In April 2010  het Chris sy verskyning gemaak in die M-Net TV-program Binnelanders, waar hy die rol van prokureur Thomas Badenhorst vertolk het. Sy karakter het ook weer in September na die kassie teruggekeer.
 
Chris het ook die jaar ‘n nuwe produksie “Noot vir Brood” op die planke gebring. Medespelers was Johrne van Huyssteen en Riaan van Rensburg. “Noot vir Brood” het uitverkoop by Aardklop en Cultivaria Fees en was ook KKNK toe onder ander feeste geneem.
 
Toekennings en Nominasies
Chris Chameleon se sukses en wêreldklastalent spreek duidelik uit die verskeie
toekennings wat hy die afgelope paar jaar ingepalm het:

  • KANNA Toekenning vir Beste Musiekproduksie by KKNK  – “Droomland.” – 2013
  • INNIBOS-toekenning vir Grootste Afrikaanse Kunsbydrae tot die fees– “Dreams” 2012
  • Green Heart Award opsigtelike toewyding tot bewaring 2012
  • SAMA -toekenning vir Beste Manlike Kontemporêre Album – “As Jy Weer Skryf” 2012
  • SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album – “Kyk Hoe Lyk Ons Nou” 2010
  • SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album – “Kyk Hoe Lyk Ons Nou” 2010
  • INNIBOS-toekenning vir Mees Gewilde Produduksie by Innibos Kunstefees 2010.
  • KANNA-toekenning vir Beste Manlike Kunstenaar by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees 2009
  • INNIBOS-toekenning vir Mees Gewilde Produksie by Innibos Kunstefees 2009
  • Huisgenoot Tempo-toekenning vir Mees Gewilde Afrikaanse Album vir “Ek Vir Jou” 2008
  • Vonk-toekenning vir Beste Solo DVD vir “Klassieke Chameleon” 2008
  • SAMA-toekenning vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album – “7de Hemel” 2007
  • Erepenning: Toegeken aan Chris deur die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek - 2007
  • FAK-toekenning vir Besondere Kultuurprestasie - 2007
  • VONK-toekenning vir Beste Manlike Solokunstenaar - 2007
  • VONK-toekenning vir Beste Liedjieskrywer vir STERREDANK - 2007
  • KANNA-toekenning vir Beste Musiekteater Produksie by KKNK - 2007
  • Gehoorkeuse-toekenning vir KLASSIEKE CHAMELEON by Aardklop – 2007
  • AMT-toekenning vir Beste Manlike Album7de Hemel” - 2007
  • AMT-toekenning vir Beste Manlike VideoGroet” - 2007
  • Huisgenoot Tempo-toekenning vir Gunsteling Kontemporêre Kunstenaar - 2006
  • VONK-toekenning vir Beste Manlike Kunstenaar - 2006
  • VONK-toekenning vir Beste Manlike Album: “Ek Herhaal Jou” - 2006
  • MK-toekenning vir Beste Solo Video “Die Onverkrygbare” - 2006
  • MK-toekenning vir Sexyste Video “Die Onverkrygbare” - 2006

 
Verdere SAMA nominasies sluit in:

 

  • SAMA nominasie vir Beste Afrikaanse Kontemporêre Album – “Posduif” – 2015
  • Beste Manlike Kontemporêre Album – As Jy Weer Skryf’- 2012
  • Beste Alternatiewe Engelse album – “Boo! – The Three of Us” 2011.
  • Beste Manlike Kunstenaar –2008,  2009 & 2010
  • Album van die JaarKlassieke Chameleon - 2009
  • Beste Afrikaanse DVDKlassieke Chameleon - 2009
  • Beste Afrikaanse Kontemporêre AlbumKlassieke Chameleon - 2009
  • MTN Plaat van die Jaar – “Sterredank” - 2009
  • Beste “Global Chart DVD”Flight of an Extraordinary Alien - 2008
  • Beste Afrikaanse Kontemporêre AlbumEk Vir Jou - 2008
  • Liedjie van die Jaar - “Droomland” - 2007
  • Beste Alternatiewe AlbumShine – 2007

 
Die Engelse Suid-AFrikaanse publikasies HEAT en GQ het Chris Chameleon ingesluit in hulle top-lysies vir 2007. Chris het die No 6 posisie op GQ se Best-dressed Male Celebrity Top 10 lys behaal, en was vir 3 jaare in 'n ry op die HEAT Hot 100 Celebrity lys.
Vir meer inligting, sien Chris Chameleon se vertoningskedule op www.chrischameleon.com

 

                            _________________________________________________________________________

Slegs met sy kitaar en asemrowende, ongewone stemwerk, neem Chris Chameleon luisteraars op ‘n reis, na plekke van musikale betowering en verwondering.
As die afgelope jaar enige aanduiding is, lyk dit of Chris Chameleon sal aanhou om ‘n baanbreker vir Suid-Afrikaanse musiek regoor die wêreld te wees.